Afrikaans 1983 Bible - 23 verses
1'n Lied van Dawid. Hy het hom kranksinnig gehou by Abimelek. Dié het hom weggejaag en hy het padgegee.
2Ek sal die Here altyd weer prys, sy lof sal altyd op my lippe wees.
3Ek sal die roem van die Here sing; dié wat swaar kry, sal dit hoor en daaroor bly wees.
4Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys.
5Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare.
6Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie.
7Ek is een van die ellendiges wat geroep het. Die Here het gehoor, uit al my benoudhede het Hy my gered.
8Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle.
9Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil.
10Julle wat aan die Here behoort, dien Hom! Wie Hom dien, het geen gebrek nie.
11Selfs leeus ly gebrek en kry honger, maar wie die Here se hulp vra, kom niks kort van al die goeie dinge nie.
12Kom, kinders, luister na my! Ek wil julle leer hoe om die Here te dien.
13As iemand die lewe liefhet en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet,
14moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens.
15Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na!
16Die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep.
17Maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen en vee selfs die herinnering aan hulle van die aarde af.
18As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede.
19Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.
20Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal.
21Die Here sorg vir die hele liggaam van die regverdige: geen been word gebreek nie.
22Die kwaad wat die goddelose doen, bewerk sy eie ondergang: vir sy vyandskap teen die regverdige sal hy boet.
23Die Here maak sy dienaars vry. Wie by Hom skuil, sal nie as skuldige behandel word nie.