Afrikaans 1983 Bible - 9 verses
1Vir die koorleier: met snarespel. 'n Psalm van Dawid.
2O God wat aan my reg verskaf, antwoord my as ek roep. Toe ek in die nood was, het U my bevry. Wees my ook nou genadig en hoor my gebed!
3Hoe lank gaan julle my eer nog skend, mense, gaan julle valsheid liefhê en voorkeur gee aan leuens? Sela
4Besef tog dat die Here wonders gedoen het vir dié wat aan Hom getrou is. Die Here hoor as ek na Hom roep.
5As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby! Sela
6Julle moet die offers bring wat aan julle voorgeskryf is, en julle moet op die Here vertrou.
7Daar is baie wat sê: “Wie sal dit weer met ons goed laat gaan?” Wees ons tog weer goedgesind, Here, help ons!
8U het my reeds groter vreugde laat belewe as wat daar is by mense wat koring en wyn in oorvloed het.
9Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.