Afrikaans 1983 Bible - 15 verses
1'n Lied. 'n Psalm van die Koragiete.
2Die Here is groot! Aan Hom kom al die lof toe hier in die stad van ons God, hier op sy heilige berg,
3mooi, hoog geleë, en 'n vreugde vir die hele aarde, Sionsberg teen die noorde, die stad van die Groot Koning.
4In hierdie goed versterkte stad het God Hom as beskermer geopenbaar.
5Konings het bymekaargekom en as een mag opgetrek,
6maar skaars het hulle die stad gesien of hulle het bang geword en verskrik op die vlug geslaan.
7Angs het hulle daar beetgepak, vrees soos dié van 'n vrou wat 'n kind in die wêreld bring,
8angs soos toe U met die oostewind die skepe van Tarsis verpletter het.
9Soos ons daarvan gehoor het, het ons dit self ervaar hier in die stad van die Here, die Almagtige, in die stad van ons God, die stad wat Hy vir altyd vas laat staan. Sela
10Hier in u tempel oordink ons u trou, o God.
11Net soos u Naam, o God, so strek u lof oor die hele aarde. U mag het groot redding gebring.
12Sionsberg moet bly wees, die stede van Juda moet oor u reddingsdade juig!
13Gaan om Sion, trek reg rondom, tel sy torings,
14bewonder sy mure, bekyk sy versterkings, sodat julle dit aan 'n volgende geslag kan vertel!
15Dié God is ons God vir altyd; Hy sal ons altyd lei.