Afrikaans 1983 Bible - 13 verses
1'n Psalm van Asaf. Heidene het u land binnegedring, o God, hulle het u heilige tempel ontwy en Jerusalem in puin gelê.
2Hulle het die lyke van u dienaars aan die voëls gegee om te vreet, die vleis van u troue dienaars aan die wilde diere.
3Hulle het die bloed van u dienaars rondom Jerusalem laat vloei soos water. Niemand het hulle begrawe nie.
4Ons het 'n bespotting vir ons buurvolke geword, ons word gespot en uitgejou deur almal rondom ons.
5Hoe lank sal dit nog aanhou, Here? Sal u toorn dan vir altyd duur, u woede soos 'n vuur bly brand?
6Laat u gramskap die heidene tref: hulle dien U nie; laat dit die koninkryke tref wat u Naam nie aanroep nie.
7Dit is hulle wat vir Jakob tot niet gemaak en sy woonplek verwoes het.
8Moet tog nie die ongeregtighede van vorige geslagte op ons laat neerkom nie, ontferm U tog gou oor ons, want ons kragte is gedaan.
9Help ons, o God, ons Redder, ter wille van die eer van u Naam, red ons, vergewe ons ons sondes tot die eer van u Naam.
10Waarom moet die heidene sê: “Waar is hulle God nou?” Laat ons aanskou hoe u straf die heidene tref oor die bloed van u dienaars wat vergiet is.
11Slaan tog ag op die gesug van die gevangenes. Red deur u groot mag dié wat met die dood bedreig word.
12Betaal ons bure dubbel en dwars terug, Here, vir die bespotting wat U van hulle moes verduur.
13Ons, u volk en u kudde, sal U altyd loof, van geslag tot geslag sal ons van u roemryke dade vertel.