Afrikaans 1983 Bible - 11 verses
1Op my bed in die nag het ek gesoek na hom wat ek liefhet; ek het hom gesoek en hom nie gekry nie.
2Ek het opgestaan en in die stad rondgegaan op die strate en die pleine, en hom gesoek wat ek liefhet; ek het hom gesoek en hom nie gekry nie.
3Die wagte wat die stad patrolleer, het my daar gekry. Ek het gevra: βHet julle die man wat ek liefhet, gesien?β
4Skaars was ek by hulle verby of ek het hom wat ek liefhet, gekry. Ek het hom vasgegryp en hom nie laat los nie, ek het hom na my ma se huis toe gebring, na die kamer toe waar ek gebore is.
5Vroue van Jerusalem, ek smeek julle en ek roep die ribbokke en die takbokke in die veld tot getuie: moenie die liefde wakker maak en aanvuur voor die tyd daarvoor ryp is nie.
6βWie is dit wat daar soos 'n rookwolk uit die woestyn uit kom, omgewe deur die geur van mirre, van wierook, van al die lekkerruik-kruie in die handel?
7Kyk, sy drastoel is diΓ© van Salomo self! Dit word begelei deur sestig soldate, van Israel se soldate,
8elkeen vaardig met die swaard, opgelei vir oorlog, elkeen met 'n swaard aan die sy, gereed vir die nag se gevare.
9Koning Salomo het van Libanonhout vir hom 'n drastoel laat maak.
10Die pote het hy van silwer laat maak, die leuning van goud, en die sitplek van pers wol. Die stoel se binnekant is inlegwerk, met liefde gedoen deur die vroue van Jerusalem.
11Kom kyk na koning Salomo, vroue van Sion; hy dra die kroon waarmee sy moeder hom gekroon het op die dag van sy huwelik, die dag van sy grootste vreugde.β