Afrikaans 1983 Bible - 29 verses
1Ellende wag vir Samaria, die kroon, die trots van die dronkaards van Efraim, die roem van die drankverslaafdes, die krans van verwelkte blomme, dié stad hoog bokant die vrugbare vallei.
2Die Here het iemand tot sy beskikking wat sterk en magtig is en wat dié kroon grond toe sal bring soos 'n haelstorm, soos 'n vernietigende stormwind, soos stortreëns uit 'n wolkbreuk.
3Dié kroon, die trots van die dronkaards van Efraim, sal met die voete vertrap word,
4dié krans van verwelkte blomme waaroor hulle roem, die stad hoog bokant die vrugbare vallei is soos 'n ryp voorvy: wie hom sien, pluk hom en kyk skaars na hom voor hy hom wegsluk.
5Daardie dag sal die Here die Almagtige die kroon wees, die krans waaroor dié sal roem wat van sy volk oor is.
6Hy sal aan dié wat reg moet spreek, 'n sin vir reg gee, Hy sal krag gee aan dié wat die aanval moet afslaan by die stadspoorte.
7Maar ook die priesters en profete hier in Jerusalem slinger en waggel van dronkenskap; hulle slinger, hulle is beneweld, hulle waggel van die wyn en die drank; die profete slinger wanneer hulle gesigte moet uitlê, die priesters loop twee rye spore wanneer hulle regsbeslissings moet maak.
8Al die tafels is vol braaksel, daar is nie 'n plek wat nie bemors is nie.
9Hulle sê: “Vir wie wil Jesaja leer, vir wie wil hy die boodskap uitlê wat hy sou gehoor het? Ons is nie kinders wat pas gespeen is, wat nou net van hulle ma's se borste af weggevat is nie!
10Wat ons van hom hoor, is 'n bietjie brabbeltaal hier en 'n bietjie brabbeltaal daar!”
11Hy sál in die vervolg met dié volk praat met stotterende woorde, in 'n vreemde taal.
12Hy het vir hulle gesê: Die rus moet hier wees, gee hier vir die vermoeide rus, hier is die plek vir vrede! Maar hulle wou nie luister nie.
13Die woord van die Here tot hulle sal nou wees 'n bietjie brabbeltaal hier en 'n bietjie brabbeltaal daar, sodat hulle sal struikel waar hulle ook gaan, verstrik sal raak, gevang en vernietig sal word.
14Hoor die woord van die Here, julle ligsinniges wat regeer oor hierdie volk in Jerusalem!
15Julle sê: “Ons het 'n ooreenkoms met die dood, ons het 'n verstandhouding met die doderyk; wanneer die vloed aangestroom kom, sal hy ons nie tref nie. Ons het die leuen ons skuilplek gemaak, ons kruip veilig weg agter die valsheid!”
16So sê die Here my God: Ek gaan in Sion 'n klip neersit, 'n uitgesoekte klip, 'n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie.
17Ek maak geregtigheid die maatstaf, regverdigheid die toets. Die hael sal julle skuilplek van leuens uitwis, die water sal julle wegkruipplek wegspoel.
18Julle ooreenkoms met die dood word opgehef, julle verstandhouding met die doderyk sal nie bly staan nie. Wanneer die vloed aangestroom kom, sal julle in hom ondergaan.
19Hy sal julle meesleur elke keer as hy kom, en hy sal dag vir dag kom, dag en nag. Dan sal dit louter verskrikking wees om die boodskap uit te lê wat ontvang is.
20Die bed sal te kort wees om reguit op te lê, die kombers te smal om jou daarmee toe te maak.
21Soos by Perasimberg sal die Here Hom gereed maak, soos in die laagte by Gibeon sal Hy Hom in sy toorn voorberei om te doen wat Hy wil doen, om die taak te verrig waartoe Hy besluit het, en dit is iets vreemds wat Hy wil doen, dit is 'n uitsonderlike taak.
22Staak julle ligsinnigheid sodat die bande nie nog stywer om julle getrek word nie! Ek het by die Here my God, die Almagtige, gehoor dat dit by Hom vasstaan: Hy gaan die hele land verwoes.
23Gee aandag, luister na wat ek sê, let op, luister na my woorde:
24Hou 'n boer aan met ploeg as hy wil saai? Hou hy aan grond breek en vore trek?
25As hy die grond gelyk gemaak het, saai hy mos swartkomyn en komyn, sit hy koring en gars in waar dit moet kom en spelt aan die kante.
26Sy God leer hom en gee hom die kennis hoe om alles te doen soos dit hoort.
27Swartkomyn word mos nie met 'n slee uitgedors of komyn met wawiele uitgetrap nie. Swartkomyn en komyn word met 'n stok uitgeslaan.
28Graan word gemaal vir brood, maar 'n mens hou nie eindeloos aan om dit te laat trap deur wawiele en deur trekdiere tot dit fyn is nie.
29Ook dit is iets wat van die Here die Almagtige af kom; kennis wat van Hom kom, is wonderbaar en laat alles voorspoedig verloop.