Afrikaans 1983 Bible - 29 verses
1Bly stil en luister na My, eilande, maak julle gereed, volke, staan nader en stel julle saak, laat ons die saak uitmaak.
2Wie is dit wat hom uit die ooste laat opstaan het vir wie elke voetstap oorwinning bring? Wie gee nasies aan hom oor, onderwerp konings aan hom? Sy swaard en sy pyl en boog laat hulle verdwyn soos stof voor die wind, soos dwarrelende stoppels.
3Hy agtervolg hulle en trek ongehinderd voort, sy voete raak nie eens grond nie.
4Wie het dit bewerkstellig, dit gedoen? Wie het die verloop van dinge van die begin af bepaal? Dit is Ek, die Here! Ek is die eerste, en wanneer die laaste dinge gebeur, sal Ek nog die Here wees.
5Die eilande het gesien wat gebeur en het bang geword, die hele aarde het gebewe. Die mense kom bymekaar,
6hulle help mekaar en praat mekaar moed in.
7Die ambagsman praat die goudsmid moed in, die een wat die metaal uitklop, praat hom wat dit aanmekaar smee, moed in. Hulle sĂȘ: âDie smeewerk is goed!â Dan slaan hulle die beeld met spykers vas dat hy nie omval nie!
8Maar jy, my dienaar, Israel, Jakob vir wie Ek uitverkies het, afstammeling van Abraham vir wie Ek liefhet,
9jy, vir wie Ek van die uiteindes van die aarde af gegryp het, van sy uithoeke af geroep het, vir jou het Ek gesĂȘ: Jy is my dienaar, Ek het jou uitverkies, Ek het jou nie verwerp nie.
10Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.
11Almal wat teen jou te kere gaan, sal teleurgesteld staan en die aftog blaas. Jou teëparty sal soos niks word, hulle sal omkom.
12Jy sal diĂ© soek wat teen jou veg, maar hulle sal nĂȘrens te vinde wees nie; diĂ© wat teen jou oorlog maak, sal word soos niks, soos iets wat nie bestaan nie.
13Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sĂȘ vir jou: Moenie bang wees nie, Ăk help jou.
14Moenie bang wees nie, al is jy niks meer as 'n wurm nie, Jakob, al is jy klein, Israel. Ăk help jou, sĂȘ die Here jou Verlosser, die Heilige van Israel.
15Ek maak jou 'n skerp dorsslee, 'n nuwe met baie tande; jy sal berge dors en fynmaal, jy sal van rante kaf maak.
16Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegwaai, die stormwind sal hulle verstrooi; dan sal jy jubel in die Here, jy sal roem in die Heilige van Israel.
17Die hulpeloses en die armes soek water, maar daar is nie; hulle versmag van dors. Maar Ek, die Here, sal hulle gebede verhoor, Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.
18Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring, en in die laagtes fonteine laat uitborrel. Ek sal woestyngebied in rietvlei verander, dor land in fonteinwĂȘreld.
19Ek sal in die woestyn seders laat groei, doringbome, mirte en olyfbome. Ek sal in die barre wĂȘreld sipresse laat groei saam met platane en denne.
20Dan sal die mense sien en erken, almal sal begryp en insien dat die Here dit gedoen het, dat die Heilige van Israel dit geskep het.
21Stel julle saak, gode, sĂȘ die Here, bring julle bewyse, sĂȘ die Koning van Jakob.
22Kom, sĂȘ vir ons wat gaan gebeur, sĂȘ vir ons wat beteken dit wat verby is sodat ons daaroor kan nadink en kan weet waarop dit uitloop.
23Of laat ons hoor wat gaan gebeur, sĂȘ vir ons wat in die toekoms gaan plaasvind dat ons kan weet of julle gode is. Doen iets, doen goed of kwaad, dan sal ons almal verbaas staan en skrik.
24Maar julle is niks, julle kan niks doen nie. Wie vir julle as sy gode kies, is self afskuwelik.
25Ek het iemand uit die noorde te voorskyn laat kom, van sonsopgang se kant af het hy gekom en my Naam aangeroep. Hy het regeerders in die modder in getrap soos 'n pottebakker die klei trap.
26Wie het voor die tyd al gesĂȘ dat dit sal gebeur sodat ons daarvan kennis kon neem, vantevore al, sodat ons sou kan sĂȘ dit het uitgekom? Nee, niemand het dit gesĂȘ nie, niemand het iets daaroor laat hoor nie, niemand het julle 'n woord daaroor hoor sĂȘ nie.
27Ek is die eerste wat vir Sion gesĂȘ het: Kyk, jou mense kom terug! Ek laat Jerusalem 'n goeie tyding hoor.
28Ek het gewag op 'n antwoord, maar nie een van die afgode het gereageer nie, nie een van hulle het 'n woord te sĂȘ gehad nie. Ek het hulle ondervra, maar niemand kon antwoord nie.
29Hulle is almal vals, hulle kan niks doen nie, hulle beelde beteken niks, hulle kon net so wel nie daar gewees het nie.