Afrikaans 1983 Bible - 22 verses
1Luister, nageslag van Jakob, julle wat julleself Israel noem en wat uit Juda voortkom, julle wat in die Naam van die Here 'n eed aflĂȘ en die God van Israel aanbid, maar nie eerlik en opreg nie;
2julle noem julleself na die heilige stad en julle maak staat op die God van Israel, op Hom wie se Naam die Here die Almagtige is. Luister hierna:
3Ek het wat vroeër gebeur het, lank tevore reeds aangekondig, uit my mond is dit gehoor, Ek het dit bekend gemaak. Toe het Ek dit skielik laat gebeur.
4Omdat Ek weet dat julle hardkoppig is, dat julle so weerbarstig soos 'n stuk yster is en dat julle kop so hard soos brons is,
5daarom het Ek dit lank tevore vir julle aangekondig, en dit aan julle bekend gemaak voordat dit gebeur het sodat julle nie kon sĂȘ: âOns afgode het dit gedoen, ons afgodsbeelde het beveel dat dit moet gebeurâ nie.
6Julle het dit alles gehoor, julle kon dit alles self sien, sal julle dan nie daarvan getuig nie? Van nou af laat Ek julle nuwe dinge hoor, dinge wat verborge was, waarvan julle niks geweet het nie.
7Ek gaan dit nou doen, dit was nie voorheen daar nie. Voor vandag het julle nie daarvan gehoor nie, julle kan nie sĂȘ: âOns het dit al geweetâ nie.
8Julle het nog niks daarvan gehoor nie en julle weet nog niks daarvan nie. Julle kon dit nie vantevore hoor nie, want Ek het geweet dat julle nie vertrou kan word nie, dat julle van julle geboorte af al as oortreders bekend is.
9Ter wille van my Naam bedwing Ek my toorn, ter wille van my eer tree Ek nie op teen julle nie dat julle nie vernietig word nie.
10Ek het jou gelouter, maar nie soos silwer gelouter word nie, Ek het jou gelouter in die smeltkroes van ellende.
11Ter wille van Myself en daarom alleen, doen Ek dit, Ek laat my Naam nie oneer aandoen nie. Ek gee die eer wat My toekom, aan niemand anders nie.
12Luister na My, Jakob, luister, Israel, vir wie Ek geroep het: Ek is die Here, Ek is die eerste, en Ek is die laaste.
13Met my eie hand het Ek die aarde se fondamente gelĂȘ, deur my mag het Ek die hemelkoepel oopgesprei: Ek het hulle te voorskyn geroep en hulle het tot stand gekom.
14Kom almal bymekaar, luister. Wie van die gode het aangekondig wat nou gaan gebeur? Die Here het iemand lief, en dié sal aan Babel doen wat hy wil en sy mag teen die Galdeërs laat geld.
15Ek, Ek het dit gesĂȘ, Ek het hom geroep, Ek het hom laat kom, en hy sal voorspoedig wees in wat hy moet doen.
16Kom nader na My toe en luister hierna: Van die begin af al het Ek niks geheim gehou nie, vandat iets begin gebeur het, is Ek nog altyd daar. En nou, die Here God het my en sy Gees gestuur.
17So sĂȘ die Here, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan.
18As jy maar aan my gebooie gehoorsaam was, sou daar voorspoed en redding vir jou gekom het, so onkeerbaar soos 'n rivier, soos die golwe van die see.
19Jou nageslag sou so baie gewees het soos sand, jou afstammelinge so volop soos sandkorrels, en Ek sou toegesien het dat hulle nie vernietig en uitgeroei word nie.
20Gaan uit Babel uit, vlug weg van die GaldeĂ«rs af! Jubel dit uit, maak hierdie aankondiging en laat dit weerklink tot in die uithoeke van die aarde; sĂȘ: âDie Here het sy dienaar Jakob verlos!â
21Sy volk het nie dors gekry toe Hy hulle deur 'n droĂ« wĂȘreld gelei het nie. Hy het vir hulle water uit 'n rots laat stroom, Hy het die rots gekloof en daar het water uitgestroom.
22Maar vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sĂȘ die Here.