Afrikaans 1983 Bible - 22 verses
1Daardie tyd, sĂȘ die Here, sal hulle die bene van die konings van Juda en diĂ© van die land se amptenare, die priesters, die profete en die inwoners van Jerusalem uit hulle grafte haal
2en uitsprei voor die son, die maan en al die ander hemelliggame vir wie hulle lief was en gedien het, agter wie hulle aangeloop het, vir wie hulle geraadpleeg het en voor wie hulle gebuig het. Die bene sal nie weer bymekaargemaak en begrawe word nie; soos mis sal hulle bo-op die grond bly lĂȘ.
3Vir die res, vir almal wat daar miskien nog oor is, wat oorgebly het van hierdie slegte geslag in al die plekke waarheen Ek hulle verdryf het, sal die dood verkiesliker wees as die lewe, sĂȘ die Here die Almagtige.
4Jy moet vir hulle sĂȘ: So sĂȘ die Here: Sal iemand val en nie opstaan nie, of wegdraai en nie terugdraai nie?
5Waarom draai hierdie volk weg van My af, en waarom hou Jerusalem aan om van My af weg te draai? Hulle hou vol met hulle bedrog, hulle weier om na My toe terug te draai.
6Ek het goed geluister en Ek het gehoor dat hulle nie die waarheid praat nie, niemand het berou oor sy sonde nie, niemand sĂȘ: âWat het ek tog gedoen!â nie. Elkeen breek met vaart van My af weg soos 'n perd uit 'n geveg wegstorm.
7Die trekooievaar ken sy tye van kom en gaan, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël kom op 'n vaste tyd terug, maar my volk wil nie weet wat die Here vir hulle vasgestel het nie.
8Hoe kan julle sĂȘ: âOns het wysheid, ons het die wet van die Here by onsâ? DiĂ© wat die wet neerskryf, pleeg bedrog, hulle vervals die wet!
9Die wyse mense staan verslae, hulle is verbyster, in hulle eie net gevang. Hulle het die woord van die Here verwerp, en wat baat hulle wysheid hulle nou?
10Ek sal hulle vrouens aan ander gee en hulle grond aan nuwe eienaars, want almal, klein en groot, wil hulleself net verryk, almal, selfs profete en priesters, is uit op bedrog.
11Hulle het 'n goedkoop raat vir die wonde van my volk. Hulle sĂȘ net: âAlles is reg! Alles is reg!â Maar niks is reg nie.
12Wanneer hulle aan die kaak gestel word oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het, skaam hulle hulle nie eens nie, hulle weet nie van skaamte nie. Daarom sal hulle tot 'n val kom soos al die ander voor hulle; wanneer hulle rekenskap moet gee, sal hulle omkom, sĂȘ die Here.
13Wanneer Ek die oes by hulle kom insamel, sĂȘ die Here, is daar geen druiwe aan die wingerdstok en geen vye aan die vyeboom nie, selfs die blare is verdroog; daarom sal Ek my volk oorgee om vernietig te word.
14Waarom bly ons sit? Roep almal bymekaar, laat ons in die vestingstede ingaan en daar gaan omkom, want die Here ons God laat ons omkom. Hy gee ons gifwater om te drink, want ons het teen Hom gesondig.
15Ons wag dat alles moet regkom, maar dit gaan nie goed nie, ons wag op 'n tyd van verbetering, maar daar is net rede tot skrik.
16Van Dan af hoor 'n mens die gesnuif van die vyand se perde; die gerunnik van sy perde laat die hele land bewe. Die vyand kom en verteer die land en alles daarbinne, elke stad met sy inwoners.
17Ek stuur giftige slange onder julle in om julle te pik, sĂȘ die Here, adders wat niemand kan besweer nie.
18My smart oorweldig my, ek is hewig ontsteld.
19Hoor hoe benoud roep my volk uit 'n ver land: âIs die Here nie meer in Sion nie? Is Sion se Koning nie meer in hom nie?â Waarom tart hulle My met hulle afgodsbeelde, met hulle vreemde nikswerd gode?
20âDie oes is af, die somer is verby, en ons is nog nie gered nie.â
21My volk se wonde is ook my wonde, ek is in die rou, deur angs oorweldig.
22Is daar nie balsem in Gilead nie? Is daar nie 'n dokter nie? Waarom het my volk nie gesond geword nie?