Afrikaans 1983 Bible - 22 verses
1Ag, hoe het die Here in sy toorn die donker laat toesak oor Sion! Hy het die pragstad van Israel tot in die stof verneder, Hy het op die dag van sy toorn sy eie tempel nie ontsien nie.
2Die Here het geen genade betoon nie, Hy het al die woonplekke van Jakob vernietig, Hy het in sy toorn die vestings van Juda afgebreek. Hy het die koninkryk verwoes, die leiers tot in die stof verneder.
3Deur sy vernietigende toorn het Hy die krag van Israel heeltemal gebreek. Toe die vyand kom, het die Here sy magtige hand teruggetrek en sy toorn teen Jakob laat brand soos 'n vlam wat alles rondom verteer.
4Soos 'n vyand het Hy sy boog gespan en aangelĂȘ, soos 'n teĂ«stander het Hy al wat dierbaar is, uitgeroei; in die woning van Sion het Hy sy toorn uitgegiet soos vuur.
5Die Here het soos 'n vyand geword, Hy het Israel vernietig, Hy het al die wonings vernietig, die vestings verwoes, Hy het ellende op ellende oor Juda gebring.
6Hy het sy eie woning verniel asof dit 'n skerm in 'n tuin is, Hy het die plek van ontmoeting vernietig; die Here het in Sion feestyd en sabbat laat ophou; in sy groot toorn het Hy koning en priester verwerp.
7Die Here het sy altaar verwerp en sy heiligdom laat vertrap. Hy het die mure rondom die tempelgebou laat afbreek deur die vyand. Hulle het in die huis van die Here gejuig asof dit sy volk is wat daar feesvier.
8Die Here het besluit om die muur van Sion te verwoes, Hy het bepaal dat dit heeltemal afgebreek moet word, Hy het nie op sy besluit teruggegaan nie; van die vestings en die mure het Hy bouvalle gemaak, hulle lĂȘ daar saam en vergaan.
9Sion se poorte is begrawe in puin, die sluitbalke is gebreek en lĂȘ aan stukke. Sy koning en sy leiers is weggevoer na die heidene toe. Daar is geen onderrig meer in die wet nie, sy profete ontvang ook geen openbaring meer van die Here nie.
10Die leiers van Sion sit verslae op die grond, hulle het stof op hulle koppe gegooi en het rouklere aan; die koppe van die jong vroue van Jerusalem hang tot op die grond.
11My oë is gedaan van die huil, dit brand in my, my moed is gebreek, want my volk is plat geslaan; kinders en babatjies sak inmekaar in die strate van die stad.
12Hulle soek by hulle moeders iets om te eet en te drink. In die strate van die stad val hulle om soos gewondes, in die arms van hulle moeders blaas hulle die asem uit.
13Wat kan ek vir jou sĂȘ, waarmee kan ek jou vergelyk, Jerusalem? Wie se lyding kan ek vir jou noem dat ek jou daardeur kan troos, Sion? Jou verwonding is soos die see so groot, wie kan jou genees?
14Die visioene van jou profete was vals en misleidend: hulle het nie jou sondes blootgelĂȘ sodat jou ballingskap afgeweer kon word nie; die openbaringe wat hulle vir jou gegee het, was vals en het tot jou verwerping gelei.
15Almal wat met die pad verbygaan, slaan die hande saam oor jou, hulle fluit en skud hulle kop oor Jerusalem: âIs dit die stad wat genoem is die beeldskone, 'n vreugde vir die hele wĂȘreld?â
16Al jou vyande rek hulle mond oor jou, hulle spot en kry lekker, hulle sĂȘ: âOns het hom verslind, dit is die dag waarvoor ons gewag het, dit het gebeur, ons beleef dit!â
17Die Here het gedoen wat Hy Hom voorgeneem het, Hy het die woord in vervulling laat gaan wat Hy lank gelede al afgekondig het. Hy het verwoes en geen genade betoon nie, Hy het die vyand hom oor jou laat vermaak, Hy het aan jou teëstanders die oorwinning gegee.
18Roep tot die Here, Sion, laat jou trane in strome vloei, dag en nag, moet jou nie rus gun nie, moenie dat jou oë verligting kry nie.
19Staan dwarsdeur die nag op en roep, stort voor die Here jou hart uit soos water, strek jou hande uit, en bid om die lewe van jou kinders, hulle wat van honger beswyk op die hoeke van die strate.
20Kyk tog, Here, let tog op aan wie U dit gedoen het: vrouens eet hulle eie kinders, kinders wat in teerheid versorg is; priesters en profete word doodgemaak in die heiligdom van die Here!
21Jonges en oues lĂȘ dood in die strate; jong vroue en jongmanne het deur die swaard geval. U het hulle neergevel op die dag van u toorn, U het 'n slagting aangerig en geen genade betoon nie.
22U het al my bure uitgenooi om hier 'n bloedige fees te vier. Op hierdie dag van die Here se toorn kon niemand ontvlug of vrykom nie. My kinders wat ek met teerheid versorg en grootgemaak het, is deur my vyande om die lewe gebring.