Afrikaans 1983 Bible - 21 verses
1Die openbaring wat Obadja ontvang het. So sĂȘ die Here my God oor Edom: Ons het 'n boodskap ontvang, en dit kom van die Here af. Daar is 'n boodskapper onder die nasies rondgestuur om te sĂȘ: âMaak klaar, kom ons gaan maak oorlog teen Edom!â
2Die Here het gesĂȘ: Edom, Ek maak jou 'n klein volkie onder die volke, jy sal glad nie meer gereken word nie.
3Jy is deur jou vermetelheid mislei, jy wat daar in die klipskeure sit, wie se woonplek hoog in die berge is, jy wat dink: wie sal my hier afkry grond toe?
4Al bou jy daar in die hoogte soos 'n aasvoĂ«l, al sit jy jou nes tussen die sterre, Ek sal jou daar afhaal, sĂȘ die Here.
5As diewe of rowers in die nag na jou toe kom, sou jy nie bly stilsit nie, al steel hulle net tot hulle genoeg het; as ander jou wingerd kom afoes, sou hulle van die druiwetrosse laat agterbly;
6maar jy, land van Esau, sal gefynkam word; alles wat jy weggesteek het, sal gestroop word.
7Al jou eie bondgenote sal jou oor jou grense jaag en jou in die steek laat. Jou eie vriende sal jou oorrompel, mense vir wie jy kos gegee het, sal vir jou strikke stel waar jy dit nie verwag nie.
8Dit is wat daardie dag sal gebeur, sĂȘ die Here. Ek sal die wyse mense uitroei uit Edom, Ek sal die slim mense uitroei uit die bergland van Esau.
9Jou dapper vegters sal bang word, Teman, al die mense sal uitgeroei word uit die bergland van Esau. Oor die moorde
10op jou broervolk Jakob, oor die geweld teen hom, sal jy verslaan word, uitgeroei word vir altyd.
11Die dag toe vreemdes die bevolking van Jakob gevange weggevoer het, het jy afsydig daar gestaan. Toe uitlanders die poorte van Jerusalem binnegegaan en oor hom begin lootjies trek het, was jy aan hulle kant.
12Jy moes jou nie daarin verlekker het dat jou broer se dag gekom het nie, die dag toe die ongeluk hom getref het; jy moes nie so bly gewees het oor wat gebeur het met die mense van Juda die dag toe hulle omgekom het nie; jy moes nie so uit die hoogte gepraat het die dag toe die ellende hulle getref het nie;
13jy moes nie die poorte van my volk binnegegaan het die dag toe die ramp hom getref het nie; jy moes jou nie ook verlekker het in sy ongeluk die dag toe die ramp hom getref het nie; jy moes nie sy besittings geroof het die dag toe die ramp hom getref het nie;
14jy moes nie by die kruispaaie gaan staan het om sy vlugtelinge dood te maak nie; jy moes nie sy oorlewendes uitgelewer het die dag toe die ellende hom getref het nie.
15Die dag van die Here is naby, naby vir al die nasies. Wat jy gedoen het, Edom, sal aan jou gedoen word, jou dade sal op jou eie kop afkom.
16Soos julle, my volk Jakob, die oordeelsbeker moes drink op my heilige berg, so sal die ander nasies dit drink, maar sonder ophou, hulle sal drink en sluk, en hulle sal word asof hulle nooit bestaan het nie.
17Maar op Sionsberg sal daar uitkoms kom, dit sal weer 'n heilige plek wees. Die volk van Jakob sal weer in besit neem wat aan hom behoort.
18Die volk van Jakob sal die vuur wees, die volk van Josef die vlam, en die volk van Esau die strooi: Josef sal hom brand en hom verteer, en van die volk van Esau sal niemand oorbly nie. Die Here het dit gesĂȘ.
19Mense uit die Suidland sal die bergland van Esau in besit neem, mense uit die Laeveld die gebied van die Filistyne. Jakob sal die Efraimsvelde in besit neem, en die veld van Samaria, Benjamin en Gilead.
20Dieselfde Israeliete wat in ballingskap weggevoer is, sal KanaÀn in besit neem tot by Sarfat; die mense van Jerusalem wat nou ballinge in Sefarad is, sal die stede in die Suidland in besit neem.
21Die bevrydes op Sionsberg sal optrek om oor die bergland van Esau te regeer, en die heerskappy sal aan die Here behoort.