Afrikaans 1983 Bible - 17 verses
1'n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het.
2Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red?
3Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei.
4Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag.
5Die Here het geantwoord: Kyk na die ander nasies: julle sal verstom staan oor wat julle sien. Ek gaan nog tydens julle lewe iets doen wat julle nie sal glo as dit vir julle vertel word nie.
6Ek gaan die Galdeƫrs laat kom, die wrede, woeste nasie wat dwarsoor die aarde rondtrek om lande te verower wat nie hulle s'n is nie.
7Hulle is 'n nasie wat vrees en ontsag inboesem, hulle ken net een wet, een trots, hulle eie.
8Hulle perde is vinniger as luiperds, vuriger as honger wolwe. Hulle ruiters kom aan op 'n galop, hulle kom van ver af, hulle vlieg soos arende wat op hulle prooi neerskiet.
9Hulle hele leƫrmag kom om verwoesting te saai, hulle kom aangestorm soos die oostewind en maak krygsgevangenes bymekaar soos sand.
10Die Galdeƫrs dryf die spot met konings en lag maghebbers uit. Hulle lag oor al die vestingstede: hulle gooi grondwalle teen die stede op en neem hulle in.
11Dan jaag hulle verder, hulle trek verby soos die wind. Vir hierdie sondige nasie is sy eie mag sy god.
12U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God; ons sal nie sterwe nie. U, Here, het die Galdeƫrs aangestel om die vonnis te voltrek, U, ons Rots, het hulle die mag gegee om ons te straf.
13U oƫ is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word, U kan tog nie sien dat daar ellende is en niks doen nie! Waarom doen U dan niks aan die trouelose mense nie, waarom bly U stil wanneer slegte mense diƩ vernietig wat beter as hulle is?
14Hoe kan U mense behandel asof hulle visse is, asof hulle kruipende insekte sonder leier is?
15Die Galdeƫrs vang mense met hoeke, trek hulle vas in nette, maak hulle bymekaar in treknette, en juig en jubel oor die vangs!
16Die Galdeƫrs bring selfs offers vir hulle nette, brand wierook vir hulle treknette, want deur die nette leef hulle in weelde en het hulle volop kos!
17Sal hulle maar deurentyd voortgaan om hulle nette uit te skud, om nasies meedoƫnloos om die lewe te bring?