Afrikaans 1983 Bible - 6 verses
1Die dag kom en hy brand soos 'n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word deur die dag wat kom, sê die Here die Almagtige. Daar sal van hulle nie 'n wortel, nie 'n tak oorbly nie.
2Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.
3Julle sal die goddeloses vertrap dat hulle soos stof onder julle voete word die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige.
4Onthou die wet van my dienaar Moses, die voorskrifte en die bepalings wat Ek aan hom by Horeb gegee het vir die hele Israel.
5Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, die verskriklike dag.
6Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie.