Afrikaans 1983 Bible - 24 verses
1Hierna het ek 'n ander engel uit die hemel uit sien afkom. Hy het groot gesag gehad, en die aarde is deur sy heerlikheid verlig.
2Hy het met 'n sterk stem uitgeroep: âGeval, geval het die grote Babilon. Dit het die blyplek van die bose geeste geword, die skuilplek van alle onrein geeste, die skuilplek van alle onrein roofvoĂ«ls en die skuilplek van alle onrein en afskuwelike diere,
3omdat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid gedrink het. Die konings van die aarde het onsedelik met haar verkeer, en die sakemanne van die aarde het ryk geword uit haar grenselose weelde.â
4Toe het ek 'n ander stem uit die hemel hoor sĂȘ: âGaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie.
5Haar sondes het tot aan die hemel opgehoop, en God het haar ongeregtighede onthou.
6Behandel haar soos sy julle behandel het, en vergeld haar dubbel soveel as wat sy julle aangedoen het. In die beker waarin sy vir julle ingeskink het, moet julle vir haar twee keer soveel inskink.
7In die mate waarin sy gepronk en in wellus gelewe het, in diĂ© mate moet julle haar pyn en droefheid aandoen. Sy sĂȘ by haarself: âEk sit as koningin op my troon. Ek is nie weduwee nie, en treur sal ek nooit nie.â
8Daarom sal al die plae haar op een dag tref: pes, droefheid en hongersnood. Sy sal met vuur verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.â
9Die konings van die aarde wat onsedelik met haar gelewe en hulle daarin verlustig het, sal huil en te kere gaan oor haar wanneer hulle die rook sien soos sy verbrand word.
10Hulle sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word, en sal sĂȘ: âHoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, Babilon, die sterk stad! In een oomblik het die oordeel oor jou gekom!â
11Die sakemanne van die aarde huil en kerm oor haar, omdat daar niemand meer is om hulle goed te koop nie:
12goue goed en silwergoed, edelstene en pĂȘrels, fyn pers klere en helderrooi syklere, allerhande skaars soorte hout, allerhande dinge van ivoor en allerhande dinge van duur hout, van koper, van yster en van marmer,
13kaneel en speserye, wierook, reukolie en reukwater, wyn en olyfolie, koring en meel, beeste en skape, perde, waens en slawe en selfs die lewens van mense.
14Daar sal gesĂȘ word: âHierdie produkte wat die lus van jou lewe was, is nou daarmee heen. Al die weelde en skittering is nou vir jou verlore en sal nĂȘrens en nooit meer gevind word nie.â
15Die sakemanne wat met hierdie goed handel gedrywe en so van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word. Hulle sal huil en kerm
16en sĂȘ: âHoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helderrooi, en opgetooi met goud, edelstene en pĂȘrels!
17In een oomblik is soveel rykdom verwoes!â Al die skeepskapteins en almal wat ĂȘrens heen vaar, die matrose en almal wat van die see lewe, het ver weg gestaan
18en het geskreeu toe hulle die rook sien soos sy verbrand word. Hulle het gesĂȘ: âWatter stad kon met diĂ© groot stad vergelyk word?â
19Hulle het stof op hulle koppe gegooi en geskreeu. Hulle het gehuil en gekerm en gesĂȘ: âHoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad! Almal wat skepe op see het, het ryk geword van haar skatte. In een oomblik is sy verwoes!â
20Verheug jou daaroor, hemel, en julle, gelowiges, apostels en profete! God het die oordeel waarmee sy julle getref het, oor haar voltrek.
21Toe het 'n sterk engel 'n groot klip, so groot soos 'n meulsteen, gevat en dit in die see gegooi en gesĂȘ: âSo, met geweld, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word, en niemand sal hom ooit weer kry nie.
22Die musiek van siterspelers en sangers, van fluitspelers en trompetblasers sal nooit weer in jou gehoor word nie. Geen ambagsman van watter ambag ook al sal ooit weer in jou gekry word nie. Die gedreun van 'n meul sal nooit weer in jou gehoor word nie.
23Die lig van 'n lamp sal nooit weer in jou skyn nie. Die stemme van bruid en bruidegom sal nooit weer in jou gehoor word nie. Jou sakemanne was die heersers van die aarde, en deur jou bedrog is al die nasies mislei.â
24Babilon is skuldig aan die bloed van die profete en die gelowiges, almal wat op die aarde doodgemaak is.