Afrikaans 1983 Bible - 34 verses
1Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het. Hy het sy belofte aan haar nagekom.
2Sy het swanger geword en in Abraham se ouderdom vir hom 'n seun in die wĂȘreld gebring. Dit het gebeur op die tyd wat God vir Abraham beloof het.
3Hy het die seun wat vir hom gebore is, die een wat deur Sara in die wĂȘreld gebring is, Isak genoem.
4Soos God vir Abraham beveel het, het hy vir Isak besny toe hy ag dae oud was.
5Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak gebore is.
6Sara het toe gesĂȘ: âGod het gemaak dat mense vir my lag: elkeen wat van Isak hoor, sal vir my lag.â
7Sy het verder nog gesĂȘ: âWie sou vir Abraham kon sĂȘ dat Sara seuns aan haar bors sal voed? Ek het in sy ouderdom 'n seun in die wĂȘreld gebring.â
8Die kind het grootgeword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham 'n groot fees gehou.
9Toe Sara die seun wat Hagar die Egiptiese slavin vir Abraham in die wĂȘreld gebring het, sien lag,
10sĂȘ sy vir Abraham: âJaag hierdie slavin en haar seun weg. Die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erf nie.â
11Abraham het ter wille van sy seun Ismael baie sleg gevoel oor wat sy gesĂȘ het,
12maar God het vir Abraham gesĂȘ: âMoenie sleg voel oor die kind en oor jou slavin nie. Luister na alles wat Sara vir jou sĂȘ, want uit Isak sal jou nageslag gebore word.
13Tog sal Ek die seun van die slavin 'n nasie laat word, want hy is jou kind.â
14Vroeg die volgende mĂŽre het Abraham kos gevat en 'n velsak water en dit vir Hagar gegee. Hy het dit saam met die kind op haar rug gesit en haar weggestuur. Sy is toe weg en het in die Bersebawoestyn rondgeswerf.
15Toe die water in die velsak opraak, het sy die kind onder 'n doringbos neergesit
16en 'n entjie daarvandaan gaan sit, omtrent so ver as 'n mens met 'n pyl en boog kan skiet, want sy het gedink: ek wil nie sien as die kind doodgaan nie. Terwyl sy so daar sit, het sy begin huil.
17God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesĂȘ: âWat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lĂȘ, gehoor.
18Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom 'n groot nasie laat word.â
19Toe het God haar oë oopgemaak en sy het 'n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee.
20God was by die kind en hy het groot geword. Hy het in die woestyn gewoon en het handig geword met die pyl en boog.
21Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy ma het hom met 'n vrou uit Egipte laat trou.
22Destyds het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leĂ«r, na Abraham toe gegaan, en Abimelek het vir hom gesĂȘ: âGod is by jou in alles wat jy aanpak.
23Beloof my dan nou met 'n eed in die Naam van God dat jy nie vals sal optree teen my of my kinders of my kleinkinders nie, dat jy net so eerbaar sal optree teenoor my en teenoor die land waarin jy nou woon, as wat ek teenoor jou opgetree het.â
24Toe het Abraham gesĂȘ: âEk beloof dit.â
25Abraham het toe by Abimelek beswaar gemaak oor die waterput wat deur Abimelek se slawe afgevat is.
26Toe sĂȘ hy vir Abraham: âEk weet nie wie dit gedoen het nie. Jy het my dit ook nie voorheen vertel nie. Ek hoor nou eers daarvan.â
27Daarna het Abraham kleinvee en grootvee gevat en vir Abimelek gegee, en hulle twee het 'n ooreenkoms gesluit.
28Abraham het ook nog sewe skaaplammers uit sy trop uitgekeer,
29en Abimelek het vir hom gevra: âWat wil jy maak met die sewe skaaplammers wat jy uitgekeer het?â
30Abraham het geantwoord: âJy moet hierdie sewe lammers by my vat en daarmee erken dat ek hierdie put gegrawe het.â
31Die plek word Berseba genoem, want daar het hulle twee 'n eed teenoor mekaar afgelĂȘ.
32Nadat hulle die ooreenkoms by Berseba gesluit het, het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, teruggegaan na die land van die Filistyne toe,
33en Abraham het 'n tamarisk by Berseba geplant en daar die Naam van die Here, die ewige God, aangeroep.
34Abraham het lank in die land van die Filistyne gewoon.