Afrikaans 1983 Bible - 29 verses
1Daarna het die Here vir Moses gesĂȘ: âGaan na die farao toe, want Ek het hom en sy amptenare onversetlik gemaak sodat Ek hierdie wonders van My onder hulle kan doen.
2Dan kan jy aan jou kinders en kleinkinders vertel wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het en watter wonders Ek onder hulle verrig het om julle te laat besef dat Ek die Here is.â
3Moses en AĂ€ron het toe na die farao toe gegaan en vir hom gesĂȘ: âSo sĂȘ die Here die God van die HebreĂ«rs: Hoe lank gaan jy nog weier om jou aan My te onderwerp? Laat my volk gaan om My te dien!
4As jy weier om my volk te laat gaan, bring Ek mĂŽre 'n sprinkaanplaag oor jou land.
5Die land sal so toe wees onder hulle dat 'n mens nie die grond sal kan sien nie. Hulle sal elke groenigheidjie afvreet wat oorgebly het na die hael, selfs dié van elke boom wat weer uitloop.
6Hulle sal oral in jou paleise wees, in die huise van al jou amptenare en van elke Egiptenaar. So iets het julle en al julle voorvaders nog nooit gesien vandat hulle in die land is tot nou toe nie.â Toe het Moses omgedraai en van die farao af weggegaan.
7Die amptenare sĂȘ toe vir die farao: âHoe lank gaan diĂ© man nog vir ons moeilikheid gee? Laat hulle nou maar gaan om hulle God, die Here, te dien, maar net die mans. U sien tog dat Egipte te gronde gaan.â
8Toe is Moses en AĂ€ron na die farao toe teruggebring en hy sĂȘ vir hulle: âGaan dien julle God, die Here! Maar wie gaan almal saam?â
9Moses antwoord: âOns gaan almal, met ons jong manne en ons ou manne, met ons seuns en ons dogters, met ons kleinvee en ons grootvee, want ons moet vir die Here 'n fees gaan hou.â
10Maar die farao sĂȘ vir hulle: âDie Here is net so min met julle as wat ek julle vrouens en kinders saam met julle sal laat gaan. Julle het 'n verkeerde ding in die kop.
11So sal ek dit nie toelaat nie! Net die mans gaan! Gaan dien die Here; dit is mos wat julle nog altyd vra!â Toe is hulle van die farao af weggejaag.
12Daarna het die Here vir Moses gesĂȘ: âSteek jou hand uit oor Egipte dat daar sprinkane oor die land kan kom om elke groen sprietjie op te vreet wat van die hael oorgebly het.â
13Toe steek Moses sy kierie oor Egipte uit, en die Here het daardie hele dag en nag 'n oostewind laat waai wat die sprinkane aangebring het. Die volgende mĂŽre was hulle daar.
14Hulle het oor Egipte gekom en die hele land vol gesit, 'n yslike groot sprinkaanswerm, soos daar nog nooit tevore was nie en hierna ook nie weer sal wees nie.
15Die land was toe onder hulle en dit was donker. Hulle het elke groen sprietjie in die land opgevreet, en alles wat na die hael aan die bome oorgebly het. Daar het geen groenigheid aan 'n boom of 'n plant in Egipte oorgebly nie.
16Die farao laat toe haastig vir Moses en AĂ€ron roep en hy sĂȘ: âEk het verkeerd gedoen teen julle God, die Here, en teen julle!
17Vergeef tog asseblief net hierdie keer my oortreding! Bid tot julle God, die Here, dat Hy hierdie dood afweer van my af.â
18Moses het van die farao af weggegaan en tot die Here gebid.
19Toe laat die Here die wind verander in 'n sterk westewind wat die sprinkane opgeskep het en in die Rietsee gegooi het. Daar het nie een enkele sprinkaan in die hele Egiptiese gebied oorgebly nie.
20Maar die Here het die farao weer koppig gemaak, en hy het die Israeliete nie laat gaan nie.
21Daarna het die Here vir Moses gesĂȘ: âSteek jou hand in die lug op, dan sal dit donker word in Egipte, so donker dat 'n mens dit kan voel.â
22Moses het toe sy hand in die lug opgesteek, en drie dae lank was dit pikdonker oor die hele Egipte.
23Die mense kon mekaar nie sien nie en drie dae lank kon niemand iets uitrig nie, maar in al die woongebiede van die Israeliete was daar lig.
24Toe laat die farao vir Moses roep en sĂȘ: âGaan dien die Here! Julle vrouens en kinders kan saamgaan, maar julle kleinvee en julle grootvee moet hier agterbly.â
25Maar Moses sĂȘ: âU sal tog nie vir ons brandoffers en ander diereoffers gee om aan ons God, die Here, te bring nie!
26Daarom gaan ons vee beslis met ons saam. Daar bly nie 'n kloutjie agter nie. Ons moet van die vee gebruik om ons God, die Here, te dien en voordat ons daar aankom, weet ons nog nie met watter offer ons Hom sal dien nie.â
27Maar die Here het die farao weer koppig gemaak, sodat hy hulle nie wou laat gaan nie.
28Toe het die farao vir Moses gesĂȘ: âMaak dat jy hier wegkom! Sorg dat ek jou nie weer sien nie, want die oomblik dat ek jou weer sien, sterf jy!â
29Moses het geantwoord: âSoos u sĂȘ: u sal my nie weer sien nie.â