Afrikaans 1983 Bible - 33 verses
1Ellende wag vir die rebelse mense wat planne uitvoer wat nie van My af kom nie, sê die Here, dié wat verdrae sluit wat nie volgens my wil is nie en so sonde op sonde stapel.
2Hulle gaan af na Egipte toe sonder om My te raadpleeg, hulle gaan soek steun by die mag van die farao, hulle wil beskerming by Egipte hê,
3maar hulle sal teleurgestel staan met die farao se mag en al, die beskerming deur Egipte sal hulle niks baat nie.
4Die leiers van Juda is al in Soan, sy boodskappers het al in Ganes aangekom,
5maar hulle sal almal teleurgestel word deur dié volk wat nie kan help nie, wat nie hulp en bystand kan verleen nie maar wat skande en vernedering bring.
6'n Uitspraak van die Here oor die diere in die Suidland: Die gesante van Juda bring hulle ryk geskenke, hulle skatte, op die rûe van hulle donkies en hulle kamele; hulle bring dit deur 'n gebied vol gevaar en angs waar leeus en slange boer en waar drake rondvlieg, hulle bring dit na 'n volk toe wat nie kan help nie.
7Egipte is niks, sy hulp beteken niks! Ek noem hom Rahab, die een wat niks kan doen nie.
8Gaan skryf dit nou op waar Juda by is, teken dit aan dat dit altyd teen hulle kan getuig in die dae wat kom.
9Hulle is 'n weerbarstige volk, hulle is mense wat lieg en wat weier om te luister na wat die Here wil.
10Hulle sê vir die sieners: “Moenie gesigte sien nie!” Hulle sê vir dié wat gesigte sien: “Moenie gesigte sien oor wat ons moet doen nie, vlei ons liewer, sien liewer dinge wat ons mislei!
11Gee pad voor ons, moenie voor ons kom staan nie; laat die Heilige van Israel uit ons teenwoordigheid verdwyn!”
12So sê die Heilige van Israel: Julle het my waarskuwing verwerp, julle het julle vertroue gestel in geweld en bedrog en daarop gesteun.
13Daarom word hierdie sonde vir julle 'n hoë stuk muur wat oorhang en dreig om te val en dan skielik, onverwags inmekaarstort
14en in stukke spat soos 'n groot kleipot wat meedoënloos fyn geslaan word sodat daar onder al sy skerwe nie een oor is om mee kole uit 'n vuurmaakplek te krap of water uit 'n opgaarput te skep nie.
15So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie;
16julle het gesê: “Nee, ons sal op perde wegjaag, ons sal vinnige perde ry.” Dan sál julle vlug, maar julle agtervolgers sal vinniger wees.
17Duisend van julle sal vlug as één julle bedreig, en as vyf julle bedreig, sal julle aanhou vlug totdat die paar wat van julle oorbly, soos 'n eensame vlagpaal op 'n berg, soos 'n enkele vaandel op 'n heuwel sal wees.
18Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm: Die Here is 'n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.
19Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor.
20Die Here het jou honger en dors laat ly, maar Hy wou jou leer, en Hy sal Hom nou nie meer afsydig hou van jou nie; jy sal self sien dat Hy die Een is wat jou leer.
21Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.”
22Dan sal jy besef dat jou afgode, jou beelde wat jy met silwer en goud oorgetrek het, onrein goed is, en jy sal hulle weggooi soos 'n mens 'n smerige lap weggooi; jy sal sê: “Weg met hulle!”
23Dan sal die Here reën gee op die saad wat jy in die land gesaai het, en sal jou grond kos vir jou lewer wat ryk en voedsaam sal wees. Jou kleinvee sal wei in uitgestrekte grasveld.
24Die beeste en die donkies waarmee jy die grond bewerk, sal kragvoer kry om te vreet wat met graaf en gaffel gemeng is.
25Dié dag wanneer die vyand by die duisend sal sneuwel en wanneer die torings omval, sal daar op elke hoë berg, elke hoë heuwel, spruite vol water wees.
26Dié dag wanneer die Here die wonde van sy volk verbind en die seerplekke genees waar Hy hulle geslaan het, sal die maan so helder skyn as die son en die son sewe maal so helder as die lig van sewe dae saam.
27Die Here verskyn uit die verte; sy toorn breek los, onweer dreig; as Hy praat, is dit vol gramskap, sy woorde is vlamme van vuur.
28Sy asem is 'n siedende stroom wat mense meesleur. Hy kom om die nasies te sif in 'n fyn sif, om vir hulle 'n toom aan te sit en hulle weg te lei.
29Maar julle sal sing soos in die nag voor 'n fees, julle sal vrolik wees soos wanneer mense met fluitspel begin loop na die berg van die Here toe, na die Rots van Israel toe.
30Die Here sal sy magtige stem laat hoor, Hy sal sy krag openbaar in gloeiende toorn, verterende vuur, storm, onweer en hael.
31Assirië sal sidder vir die stem van die Here wanneer Hy begin slaan,
32en elke keer wanneer die slae op Assirië afkom en hom tref, sal die simbale en die liere weerklink. Die Here sal self teen Assirië veg.
33Daar is 'n brandoond gereed gemaak, lank gelede al; dit is diep en wyd en bedoel vir die koning van Assirië. Daar is 'n groot hoop brandhout in en die asem van die Here steek dit aan die brand soos 'n stroom swael.