Afrikaans 1983 Bible - 9 verses
1Ellende wag vir dié wat by Egipte hulp gaan vra; hulle verlaat hulle op perde, hulle is vol vertroue as daar baie strydwaens is, as hulle oor 'n menigte ruiters kan beskik; maar op die Heilige van Israel vertrou hulle nie, na die wil van die Here vra hulle nie.
2HĂœ is die Een wat wysheid het; daarom het Hy 'n ramp laat losbreek en het Hy nie afgesien van wat Hy gesĂȘ het nie: Hy tree op teen die volk wat altyd verkeerd doen Ă©n teen die volk wat hulp verleen aan diĂ© wat onreg doen.
3Die Egiptenaars is mense, hulle is nie gode nie, en hulle perde is maar net perde, nie bonatuurlike wesens nie. As die Here sy hand uitsteek, val die helper én die een wat gehelp word en gaan hulle saam onder.
4So het die Here vir my gesĂȘ: Soos 'n leeu, 'n maanhaar, by sy prooi lĂȘ en grom en hom nie laat afskrik deur die harde geskreeu van veewagters wat teen hom saamgeroep is nie, en hom nie steur aan hulle lawaai nie, so sal die Here die Almagtige, wanneer Hy neerdaal, sy oorlog veg op Sionsberg, op die heuwel waar Sion lĂȘ.
5Soos voëls beskermend oor hulle neste sweef, so sal die Here die Almagtige die skild oor Jerusalem wees; Hy sal beskermend verbykom en so sal Hy red en bevry.
6Israeliete, bekeer julle tot Hom van wie julle so ver verwyder geraak het.
7Daardie dag, wanneer julle elkeen sy afgode weggooi, die afgode van silwer en van goud wat julle self gemaak het en waarmee julle gesondig het,
8sal die Assiriërs deur die swaard afgemaai word, maar nie die swaard van 'n mens nie, hulle sal uitgewis word deur die swaard, maar nie die swaard van 'n mens nie. Hulle sal voor die swaard uit moet vlug, en hulle jongmanne sal dwangarbeiders word.
9Die koning vir wie hulle as hulle rots beskou, sal van angs op die vlug slaan, en hulle leiers sal paniekbevange van die vaandel af padgee, sĂȘ die Here ter ere van wie die vuur in Sion brand, ter ere van wie die altaar in Jerusalem rook.