Afrikaans 1983 Bible - 14 verses
1“Jy moet hierdie treurlied sing oor die konings van Israel.
2Jy moet sê: “Wat 'n leeuwyfie was jou ma nie tussen die leeus nie! Haar lêplek was tussen die jong leeus, daar het sy haar welpies grootgemaak.
3Sy het een van haar welpies grootgemaak en hy het 'n jong leeu geword. Hy het geleer om sy prooi te vang en selfs 'n mensvreter geword.
4Maar die nasies het van hom gehoor en hom in 'n vanggat gevang. Hulle het hom met hake na Egipte toe gesleep.
5“Toe die leeuwyfie sien sy kry nie haar sin nie en dit is klaar met die verwagting wat sy gehad het, vat sy nog een van haar welpies en maak van hom ook 'n jong leeu.
6Hy het tussen die leeus rondgestap en 'n jong leeu geword. Hy het geleer om sy prooi te vang en selfs 'n mensvreter geword.
7Hy het hulle weduwees vir hom gevat en hulle stede verwoes. Die land en almal daarin was verskrik vir sy gebrul.
8Die mense het die nasies in die lande rondom teen hom aangehits, en dié het hulle vangnet oor hom gegooi en hom in 'n vanggat gevang.
9Hulle het hom in 'n hok gesit en hom met hake na die koning van Babel toe gesleep. Hulle het hom daar gevange laat hou sodat hulle nie weer sy brul sou hoef te hoor op die berge van Israel nie.
10“Jou ma was soos 'n wingerdstok wat langs die water geplant is. Van die baie water het hy druiwe en ranke gehad.
11Hy het sterk lote gehad, geskik vir koninklike septers. Hy het hoog gegroei, tot by die wolke, en jy kon hom uitken aan sy hoogte en sy baie ranke.
12Maar hy is in woede uitgeruk en op die grond neergegooi. Die oostewind het hom uitgedor en sy vrugte is afgepluk. Sy sterk lote het verdroog en is verbrand.
13Toe word die wingerdstok in die woestyn geplant, in 'n droë dorsland,
14maar daar het vuur uit die lote gekom en sy ranke en vrugte verteer. Toe was daar nie meer sterk lote aan die wingerdstok, geskik vir koninklike septers nie.” Dit is 'n treurlied hierdie. Dit het 'n treurlied geword.