Afrikaans 1983 Bible - 38 verses
1Jesus het toe in die skuit geklim, die see oorgesteek en in sy eie dorp aangekom.
2Daar het hulle 'n verlamde man wat bedlĂȘend was, na Hom toe gebring. Toe Jesus hulle geloof sien, sĂȘ Hy vir die verlamde: âVriend, wees gerus; jou sondes word vergewe.â
3Party van die skrifgeleerdes het by hulleself gesĂȘ: âHy praat godslasterlik.â
4Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en Hy sĂȘ vir hulle: âWaarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte?
5Wat is makliker? Om te sĂȘ: âJou sondes word vergewe,â of om te sĂȘ: âStaan op en loopâ?
6Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.â Hy sĂȘ toe vir die verlamde man: âStaan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.â
7Hy het opgestaan en huis toe gegaan;
8en toe die menigte mense dit sien, het hulle God, wat sulke mag aan mense gee, met eerbiedige vrees geprys.
9Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy 'n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesĂȘ: âVolg My!â Hy het toe opgestaan en Hom gevolg.
10Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet.
11Toe die FariseĂ«rs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: âWaarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?â
12Maar Jesus het dit gehoor en gesĂȘ: âDiĂ© wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar diĂ© wat siek is.
13Gaan leer wat dit beteken: âEk verwag barmhartigheid en nie offers nie.â Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.â
14In diĂ© tyd het die volgelinge van Johannes na Jesus toe gekom en gevra: âWaarom vas ons en die FariseĂ«rs dikwels, maar u dissipels vas glad nie?â
15Jesus antwoord hulle: âKan die bruilofsgaste dan treur solank die bruidegom nog by hulle is? Maar daar kom 'n tyd wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle vas.
16âNiemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want die nuwe lap skeur die klere nog verder, en die gat word net groter.
17â'n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou velsakke nie. As jy dit doen, bars die sakke, die wyn loop uit en die sakke is daarmee heen. Nee, 'n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en so behou jy altwee.â
18Jesus was nog besig om dit vir die mense te sĂȘ toe daar 'n raadslid van die sinagoge voor Hom kom kniel en sĂȘ: âMy dogter het nou net gesterwe, maar kom lĂȘ u hand op haar en sy sal weer lewe.â
19Jesus het opgestaan, en Hy en sy dissipels het saam met die man gegaan.
20'n Vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak.
21Sy het vir haarself gesĂȘ: âAs ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.â
22Jesus het omgedraai, haar gesien en gesĂȘ: âWees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.â Van daardie oomblik af was die vrou gesond.
23Daarna het Jesus by die huis van die raadslid gekom. Toe Hy die fluitspelers sien en die klomp mense wat te kere gaan,
24sĂȘ Hy: âGaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.â Maar hulle het Hom uitgelag.
25Nadat die mense uitgejaag was, het Hy in die huis ingegaan, die dogtertjie se hand gevat en sy is uit die dood opgewek.
26Berigte hieroor het deur daardie hele omgewing versprei.
27Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes Hom gevolg. Hulle het aanhoudend geskreeu: âOntferm U tog oor ons, Seun van Dawid!â
28Jesus het in die huis ingegaan, en die blindes het daar na Hom toe gekom. Hy vra toe vir hulle: âGlo julle dat Ek dit kan doen?â âJa, Here,â antwoord hulle Hom.
29Toe raak Hy aan hulle oĂ« en sĂȘ: âWat julle glo, sal gebeur.â
30Hulle kon toe sien, maar Jesus het hulle baie streng beveel: âHiervan moet niemand hoor nie.â
31Maar toe hulle daar weg is, het hulle in daardie hele omgewing van Hom vertel.
32Nadat die twee blindes die huis verlaat het, het die mense 'n man na Hom toe gebring wat stom was omdat hy in die mag van 'n bose gees was.
33Nadat die bose gees uitgedryf is, het die stom man begin praat. Die menigte het hulle verwonder en gesĂȘ: âSo iets het nog nooit in Israel gebeur nie.â
34Maar die FariseĂ«rs het gesĂȘ: âDit is met die hulp van die aanvoerder van die bose geeste dat hy die bose geeste uitdryf.â
35Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak.
36Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie.
37Hy sĂȘ toe vir sy dissipels: âDie oes is groot, maar die arbeiders min.
38Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.â