Afrikaans 1983 Bible - 52 verses
1Op 'n dag sĂȘ Jonatan seun van Saul toe vir sy wapendraer: âKom ons gaan oor na die patrollie van die Filistyne toe daar oorkant.â Hy het dit egter nie vir sy pa vertel nie.
2Saul was toe onder 'n granaatboom by die dorsvloer net buite Gibea met omtrent ses honderd man by hom.
3Die priester Agija seun van Agitub, broer van Ikabod seun van Pinehas, seun van Eli wat priester van die Here in Silo was, het die skouerkleed gedra. Maar die manskappe het nie geweet dat Jonatan weggegaan het nie.
4Weerskante van die pas waar Jonatan probeer deurgaan het na die patrollie van die Filistyne toe, was daar 'n spits rots. Die naam van die een rots was Boses en dié van die ander Senne.
5Die een spits het soos 'n pilaar aan die noordekant teenoor Mikmas gestaan, en die ander aan die suidekant teenoor Gibea.
6Jonatan het vir sy wapendraer gesĂȘ: âKom ons gaan oor na die patrollie van hierdie heidene toe. Miskien sal die Here ons help. Hy kan red, deur baie of deur min.â
7En sy wapendraer sĂȘ vir hom: âNet soos u wil. Ek is tot u diens.â
8Jonatan sĂȘ toe vir hom: âNou toe, kom ons gaan in hulle rigting sodat hulle ons kan sien.
9As hulle vir ons sĂȘ: âStaan stil totdat ons by julle kom,â bly ons hier onder staan. Ons gaan dan nie op na hulle toe nie.
10Maar as hulle vir ons sĂȘ: âKom op na ons toe,â gaan ons na hulle toe, want dan sal dit vir ons die teken wees dat die Here hulle in ons mag gee.â
11Toe die Filistynse patrollie die twee sien, het die Filistyne gesĂȘ: âKyk daar! Party HebreĂ«rs het uitgekom uit die gate waarin hulle weggekruip het.â
12En die manne van die patrollie het vir Jonatan en sy wapendraer uitgedaag: âKom op na ons toe dat ons julle 'n les kan leer.â Jonatan het vir sy wapendraer gesĂȘ: âKlim agter my aan! Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee.â
13Jonatan het hande-viervoet opgeklouter met sy wapendraer op sy hakke. Die vyand het voor Jonatan geval, en agter hom het sy wapendraer hulle doodgemaak.
14In hierdie eerste slagting deur Jonatan en sy wapendraer het omtrent twintig man geval, en dit op 'n klein stukkie grond.
15Toe het die hele leër van die vyand paniekbevange geword, in die laer en in die veld; die patrollie en die roofbende het ook paniekbevange geword: daar was 'n aardbewing en God het hulle paniekbevange gemaak.
16Toe die wagte van Saul by Gibea in Benjamin sien dat die menigte in beroering is en in die rondte maal,
17het Saul vir die manskappe by hom gesĂȘ: âStel dadelik vas wie van ons is weg.â Hulle het vasgestel Jonatan en sy wapendraer is nie daar nie.
18Saul sĂȘ toe vir Agija: âBring die ark van God nader.â Die ark van God was in diĂ© tyd by die Israeliete.
19Terwyl Saul nog met die priester aan die praat was, het die rumoer in die laer van die Filistyne steeds groter geword. Toe sĂȘ Saul vir die priester: âLaat staan maar!â
20Saul en die manskappe by hom het bymekaargekom en toe hulle by die geveg kom, was die Filistyne besig om onder mekaar te veg. Daar was baie groot verwarring.
21Boonop het die Hebreërs wat voorheen saam met die Filistyne se leër opgetrek het, oorgeloop na die Israeliete toe wat by Saul en Jonatan was.
22Al die Israeliete wat in die Efraimsberge weggekruip het, het gehoor dat die Filistyne vlug en het hulle agterna gesit.
23Die Here het Israel daardie dag gered. Hulle het veg-veg by Bet-Awen verbygegaan.
24Elke Israeliet het daardie dag kom veg. Saul het die manskappe 'n eed opgelĂȘ en gesĂȘ: â'n Ramp tref diĂ© een wat voor vanaand iets eet. Ek wil my op my vyande wreek.â Nie een van die manskappe het aan iets geproe nie.
25Die gebied was bosagtig en daar was veldheuning.
26Toe die manskappe in die bos kom, het dit sommerso gedrup van die heuning en tog het niemand sy mond aan iets gesit nie, want die manskappe was bang vir die eed wat hulle opgelĂȘ is.
27Jonatan het egter nie gehoor toe sy pa die leĂ«r die eed opgelĂȘ het nie. Hy het die punt van sy kierie in 'n heuningkoek gesteek en daarvan geĂ«et. Dit het hom nuwe krag gegee.
28Een van die manskappe sĂȘ toe vir hom: âJou pa het die manskappe 'n streng eed opgelĂȘ en gesĂȘ: â'n Ramp tref diĂ© een wat vandag iets eet.â Daarom is die manskappe nou uitgeput.â
29Maar Jonatan sĂȘ: âMy pa het 'n ramp oor die land gebring. Kyk net, ek het nuwe krag gekry omdat ek hierdie bietjie heuning geproe het.
30As die manskappe vandag maar net ongehinderd kon geĂ«et het van die buit wat van die vyand afgevat is, sou die slagting onder die Filistyne nou sommer baie groot gewees het.â
31Daardie dag het hulle die Filistyne verslaan van Mikmas af tot by Ajalon, maar toe was die manskappe heeltemal gedaan.
32Hulle het op die buit toegesak en kleinvee, beeste en kalwers gevat en op die grond geslag en sommerso by die bloed geëet.
33Daar is toe aan Saul gesĂȘ: âDie manskappe sondig teen die Here deur by die bloed te eet.â Toe sĂȘ hy: âJulle doen verkeerd. Rol dadelik 'n groot klip na my toe!â
34Verder het Saul gesĂȘ: âLoop tussen die manskappe deur en sĂȘ vir hulle: Elkeen moet sy bees of stuk kleinvee na my toe bring en op die klip slag en dan gaan eet, sodat hulle nie teen die Here sondig deur by die bloed te eet nie.â Daardie nag het al die manskappe elkeen self sy bees gebring en daar by Saul geslag.
35Saul het 'n altaar vir die Here gebou: hy het die klip gebruik om 'n altaar vir die Here te bou.
36Daarna het Saul gesĂȘ: âLaat ons die Filistyne vannag agtervolg. Laat ons hulle plunder tot mĂŽre ligdag. Ons moenie een van hulle laat oorbly nie.â Die manskappe sĂȘ toe: âMaak soos u goedvind.â Maar die priester antwoord: âLaat ons God hier raadpleeg!â
37Toe het Saul vir God gevra: âMoet ek die Filistyne agtervolg? Sal U hulle in Israel se mag oorgee?â Maar God het hom nie toe geantwoord nie.
38Saul sĂȘ toe vir al die offisiere: âKom hiernatoe dat julle kan uitvind en self sien wie vandag gesondig het.
39Al is dit ook my seun Jonatan moet hy sekerlik sterwe, so seker as wat die Here leef, Hy wat vir Israel red.â Maar geen enkele manskap het vir Saul geantwoord nie.
40Toe sĂȘ hy vir die hele Israel: âJulle moet eenkant toe staan. Ek en my seun Jonatan sal anderkant toe staan.â En die manskappe sĂȘ vir Saul: âMaak soos u goedvind.â
41Saul het vir die Here gevra: âGod van Israel, gee tog 'n beslissing.â Jonatan en Saul is aangewys, en die manskappe is van blaam onthef.
42Toe sĂȘ Saul: âJulle moet loot tussen my en my seun Jonatan.â Jonatan is aangewys,
43en Saul het vir hom gesĂȘ: âVertel my tog wat jy gedoen het.â Jonatan het vir hom vertel. Hy het gesĂȘ: âEk het net met die punt van my kierie 'n bietjie heuning geproe. Maar ek is bereid om te sterf.â
44Saul sĂȘ toe: âDit was 'n eed, Jonatan, jy moet beslis sterf!â
45Maar die manskappe sĂȘ vir Saul: âMoet Jonatan wat hierdie groot uitkoms vir Israel bewerk het, sterf? Beslis nie! So seker as die Here leef, daar sal vandag geen haar van Jonatan se kop op die grond val nie, want met God se hulp het hy die Filistyne verslaan.â So het die manskappe vir Jonatan los gekry, en hy het nie gesterf nie.
46Saul het die agtervolging van die Filistyne gestaak, en die Filistyne het na hulle gebied toe teruggegaan.
47Nadat Saul seker was van die koningskap oor Israel, het hy oorlog gemaak teen al sy vyande in die omgewing: teen Moab en die Ammoniete; teen Edom en die konings van Soba; teen die Filistyne en teen almal wat teen hom gedraai het en gerebelleer het.
48Saul het dapper opgetree en die Amalekiete verslaan. Sodoende het hy Israel gered uit die mag van dié wat hom geplunder het.
49Die seuns van Saul was Jonatan, Jiswi en Malkisua; die name van sy twee dogters was Merab, die oudste, en Mikal, die jongste.
50Die naam van Saul se vrou was Aginoam dogter van AgimaÀs, en die hoof van Saul se leër was Abner seun van Ner, 'n oom van Saul.
51Kis, Saul se pa, en Ner, Abner se pa, was seuns van Abiël.
52Gedurende die hele bewind van Saul was daar gedurig oorlog teen die Filistyne, en Saul het elke sterk of dapper man van wie hy gehoor het, by hom laat aansluit.