Afrikaans 1983 Bible - 57 verses
1Twee jaar later het die farao 'n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl.
2Uit die rivier kom daar toe sewe mooi vet koeie uit en hulle gaan wei in die vleigras.
3NĂĄ hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer en het langs die ander koeie op die rivierwal gaan staan.
4Toe vreet die lelike maer koeie die sewe mooi vettes op. Daarna het die farao wakker geskrik.
5Hy het weer aan die slaap geraak en weer gedroom. Hy het gesien hoe sewe mooi vol are opskiet aan een stingel.
6NĂĄ hulle kom daar toe sewe skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind.
7Die skraal are sluk toe die sewe vol vet are in. Daarna het die farao wakker geskrik, en hy het besef hy het gedroom.
8Die mĂŽre was die farao onrustig oor die drome. Hy het al die waarsĂȘers van Egipte en ook die raadgewers almal laat roep en vir hulle sy droom vertel. Maar niemand kon dit vir hom uitlĂȘ nie.
9Toe sĂȘ die hoof van die skinkers vir die farao: âVandag moet ek u herinner aan die verkeerde ding wat ek vroeĂ«r gedoen het.
10U het toe kwaad geword vir u dienaars, vir my en vir die hoof van die bakkers, en u het ons laat opsluit in die tronk in die huis van die hoof van u lyfwag.
11âDaar het ons in een en dieselfde nag 'n droom gehad, elkeen sy eie droom met sy eie uitleg.
12Saam met ons was 'n Hebreeuse jongman, 'n slaaf van die hoof van die lyfwag. Ons het toe ons drome vir hom vertel, en hy het dit vir ons uitgelĂȘ. Hy het dit uitgelĂȘ volgens elkeen se droom.
13Soos hy dit vir ons uitgelĂȘ het, het dit daarna gebeur: vir my het hy in my amp laat herstel en die bakker het hy laat ophang.â
14Toe het die farao vir Josef laat roep en hulle het hom gou uit die tronk gehaal. Nadat hulle hom geskeer en ander klere aangetrek het, is hy na die farao toe.
15Die farao het vir Josef gesĂȘ: âEk het 'n droom gehad, maar daar is niemand wat dit kan uitlĂȘ nie. Toe het ek van jou gehoor: jy lĂȘ 'n droom uit as jy hom hoor.â
16Josef het vir die farao gesĂȘ: âNie ek nie! God gee diĂ© goeie antwoord vir u.â
17Toe sĂȘ die farao vir Josef: âIn my droom het ek op die wal van die Nyl gestaan.
18Toe kom daar sewe mooi vet koeie uit die rivier uit en hulle gaan wei in die vleigras.
19NĂĄ hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer. Ek het nog nooit sulke lelike diere in Egipte gesien nie.
20Toe vreet die lelike maer koeie die eerste sewe, die vettes, op.
21Nadat hulle ingesluk was, kon jy dit nie aan die maeres merk nie: hulle het nog net so sleg gelyk as aan die begin. âToe het ek wakker geskrik.
22âEk het daarna in 'n droom gesien: sewe mooi vol are het opgeskiet aan een stingel.
23Nå hulle kom daar toe sewe droë, skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind.
24Die skraal are sluk toe die sewe mooi are in. âEk het dit vir die waarsĂȘers vertel, maar niemand kon my iets sĂȘ nie.â
25Toe sĂȘ Josef vir die farao: âU het maar net een droom gehad. Wat God wil doen, het Hy aan u meegedeel.
26âDie sewe mooi koeie is sewe jaar en die sewe mooi are is sewe jaar. Dit is maar een en dieselfde droom.
27Die sewe maer, lelike koeie wat daarna uit die rivier gekom het, en die sewe skraal are wat deur die oostewind verskroei is, is ook sewe jaar, sewe jaar hongersnood.
28âDit is wat ek bedoel het toe ek vir u gesĂȘ het dat God u laat sien het wat Hy wil doen.
29âDaar sal in die hele Egipte sewe jaar groot oorvloed kom.
30Dan breek daar sewe jaar hongersnood aan. Die mense sal die voorspoed wat daar in die hele Egipte was, vergeet en die hongersnood sal die land op sy knieë bring.
31Die hongersnood sal so straf wees dat 'n mens later niks meer van die oorvloed sal merk nie.
32âDie droom het twee keer na u toe gekom omdat die saak vas staan by God. Hy sal dit binnekort uitvoer.
33âEk beveel aan dat u 'n verstandige en wyse man kies en hom in beheer plaas van die hele Egipte.
34Die farao moet dĂt doen: u moet beamptes vir die hele land aanstel en die land tydens die sewe jaar van oorvloed behoorlik organiseer.
35Hulle moet al die graan van die goeie jare wat aan die kom is, insamel en dit in graanskure bĂȘre en bewaak sodat daar kos tot u beskikking is.
36Die graan moet vir die land in reserwe gehou word, dit moet vir die sewe jaar van hongersnood beskikbaar wees in Egipte. Dan sal die hongersnood nie die land uitroei nie.â
37Die farao en al sy amptenare het Josef se raad goedgevind.
38Toe sĂȘ die farao vir sy amptenare: âWaar kry ons so iemand, 'n man met die verstand van 'n god?â
39Die farao het daarop vir Josef gesĂȘ: âGod het jou dit alles bekend gemaak. Daaruit is dit duidelik dat niemand soveel verstand en wysheid as jy het nie.
40Ek stel jou aan oor my paleis. âMy volk moet jou gehoorsaam. Net ek sal meer mag hĂȘ as jy.â
41Die farao het verder nog vir Josef gesĂȘ: âKyk, ek stel jou aan oor die hele Egipte.â
42Toe haal die farao sy seëlring af en steek dit aan Josef se vinger. Die farao het vir Josef linneklere laat aantrek en 'n goue ketting om sy nek gehang
43en hom laat ry op die tweede beste wa van die farao. Daar is voor Josef uitgeroep: âBetoon hom eer!â So is Josef oor die hele Egipte aangestel.
44Toe het die farao vir Josef gesĂȘ: âEk bly die farao, maar sonder jou toestemming mag niemand in Egipte 'n vinger verroer of 'n voet versit nie.â
45[45-46] Die farao het Josef Safenat-Paneag genoem en vir hom Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, as vrou gegee. Josef was dertig jaar oud toe hy in die diens van die farao die koning van Egipte getree het. Josef is van die farao af weg en het die land deurgegaan, die hele Egipte.
46***
47Tydens die sewe jaar van oorvloed het die land 'n buitengewone groot oes gegee,
48en Josef het al die graan wat daar in hierdie jare in Egipte was, bymekaargebring en in graanskure gebĂȘre: in elke stad is die graan uit die lande van daardie omgewing gebĂȘre.
49Josef het so baie koring bymekaargemaak dat dit net soveel was as die sand van die see. Hy het later opgehou om aan te teken hoeveel daar was, want dit was te veel om te tel.
50Reeds voor die jare van hongersnood begin het, is daar vir Josef twee seuns gebore. Sy vrou Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, het hulle vir Josef in die wĂȘreld gebring.
51Hy het die oudste Manasse genoem, âwant,â het hy gesĂȘ, âGod het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.â
52Josef het sy ander seun Efraim genoem, âwant,â het hy gesĂȘ, âGod het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.â
53Na die sewe jaar voorspoed in Egipte
54het die sewe jaar hongersnood begin. So het Josef dit destyds aangekondig. In al die lande was daar hongersnood, maar in die hele Egipte was daar kos,
55want toe die hongersnood Egipte tref en die mense vir die farao kos vra, het hy vir al die Egiptenaars gesĂȘ: âGaan na Josef toe en doen wat hy sĂȘ.â
56Oor die hele wĂȘreld was daar hongersnood, en toe dit straf word in Egipte, het Josef die graanskure oopgesluit en wat daarin was, aan die Egiptenaars begin verkoop.
57En toe die hongersnood straf word in die ander lande, het die mense van die hele wĂȘreld Egipte toe gekom om koring te koop by Josef.