Afrikaans 1983 Bible - 16 verses
1Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet,
2hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”
3Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou en jou bewaar van dodelike siekte.
4Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou 'n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.
5Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag,
6vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.
7Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie.
8Met jou eie oë sal jy sien hoe die goddelose gestraf word.
9Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer,
10sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie.
11Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
12Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.
13Jy sal oor leeus en adders loop, leeus en slange sal jy doodtrap.
14“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.
15Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.
16'n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly.”