Afrikaans 1983 Bible - 32 verses
1Daarna sĂȘ die Here vir Moses: âGaan sĂȘ vir die farao: So sĂȘ die Here: Laat my volk gaan om My te dien.
2As jy weier om hulle te laat gaan, sal Ek jou hele gebied met 'n paddaplaag tref.
3Die Nyl sal wemel van die paddas. Hulle sal uitspring en in jou paleis kom, in jou slaapkamer, op jou bed, in jou amptenare se huise, tussen jou mense, in jou bakoonde en in jou skottels.
4Die paddas sal op jou en op jou mense en al jou amptenare spring.â
5Verder sĂȘ die Here vir Moses: âSĂȘ vir AĂ€ron: Swaai jou kierie oor die kanale, riviere en moerasse. Laat daar paddas kom oor Egipte.â
6AĂ€ron swaai toe sy kierie oor al die water van Egipte en toe kom die paddas: Egipte was oortrek van hulle.
7Tog het die towenaars met hulle towerkunste dieselfde gedoen en ook paddas oor Egipte laat kom.
8Hierna roep die farao vir Moses en AĂ€ron en sĂȘ: âJulle moet die Here bid dat Hy die paddas van my en my mense af wegvat. Dan sal ek die volk laat gaan dat hulle vir die Here kan gaan offer.â
9Moses antwoord toe: âSoos dit U Majesteit behaag. Wanneer sal ek vir u, u amptenare en u mense bid dat die paddas heeltemal van u en u huise af weggevat kan word, en daar net in die Nyl nog van hulle sal oorbly?â
10En die farao antwoord: âDoen dit mĂŽre.â Toe sĂȘ Moses: âGoed, dan sal u besef dat daar geen god is soos ons God, die Here, nie.
11Die paddas sal van u af weggevat word, van u huise, u amptenare en u mense af; net in die Nyl sal daar nog paddas oorbly.â
12Moses en AĂ€ron het van die farao af weggegaan en Moses het die Here aangeroep oor die paddas wat Hy oor die farao gebring het.
13Die Here het gedoen wat Moses gevra het, en die paddas het gevrek, in die huise, in die binneplase en op die lande.
14Die mense het dit hope-hope bymekaargehark, en die land het daarvan gestink.
15Maar toe die farao sien dat daar verligting gekom het, het hy weer onversetlik geword. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, soos die Here vooraf gesĂȘ het.
16Daarna het die Here vir Moses gesĂȘ: âSĂȘ vir AĂ€ron: Swaai jou kierie en slaan op die grond dat daar muggies oor die hele Egipte kom.â
17Hulle twee het toe so gemaak. AĂ€ron het die kierie geswaai en op die grond geslaan, en mens en dier was oortrek van die muggies. In die hele Egipte het elke krieseltjie stof 'n muggie geword.
18Die towenaars het dieselfde probeer doen met hulle towerkunste, dié keer om muggies voort te bring, maar hulle kon nie. Mens en dier was oortrek van die muggies.
19Toe sĂȘ die towenaars vir die farao: âDit is die vinger van God!â Maar die farao het koppig gebly. Hy het nie aan Moses-hulle se versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesĂȘ het.
20Daarna het die Here vir Moses gesĂȘ: âStaan mĂŽreoggend vroeg op en gaan wag vir die farao by die water. Hy sal juis op pad wees soontoe. SĂȘ vir hom: So sĂȘ die Here: Laat my volk gaan om My te dien,
21want as jy my volk nie laat gaan nie, sal Ek steekvlieë op jou loslaat, op jou amptenare, op jou mense en in jou huise. In die huise van die Egiptenaars en ook op hulle lande sal dit swerm van die steekvlieë.
22Maar dié dag sal Ek 'n uitsondering maak van die Gosenstreek waar my volk woon. Dåår sal nie 'n enkele steekvlieg wees nie, dat jy kan besef dat Ek, die Here, in die land is.
23Ek neem mĂœ volk in beskerming, joune nie. Net mĂŽre sal hierdie wonder gebeur.â
24Die Here het dit toe gedoen. Groot swerms steekvlieĂ« het in die paleis van die farao in gekom, in die huise van sy amptenare en oor die hele Egipte. Die land is daardeur lam gelĂȘ.
25Toe roep die farao vir Moses en AĂ€ron en sĂȘ: âJulle kan vir julle God gaan offer, maar hier in diĂ© land!â
26Maar Moses antwoord: âDit kan ons nie doen nie, want ons offers aan ons God, die Here, gee aanstoot aan die Egiptenaars. As ons nou hier voor hulle oĂ« offers bring wat vir hulle aanstootlik is, sal hulle ons mos met klippe doodgooi!
27Ons wil maar net drie dagreise ver die woestyn in gaan om aan ons God, die Here, te offer soos Hy ons beveel het.â
28Hierna sĂȘ die farao: âDan laat ek julle nou maar gaan om in die woestyn vir julle God, die Here, te offer. Moet net nie te ver weg gaan nie, en bid vir my.â
29Toe antwoord Moses: âEk gaan nou weg van u af en sal die Here bid dat die steekvlieĂ« mĂŽre van u af padgee en van u amptenare en u mense af. U Majesteit moet nou net nie weer u woord breek deur die volk nie te laat gaan om vir die Here te offer nie!â
30Moses het weggegaan van die farao af en tot die Here gebid.
31Die Here het toe gedoen wat Moses gevra het en die steekvlieë van die farao af laat padgee, en van sy amptenare en sy mense af. Daar het nie een oorgebly nie.
32En tog het die farao ook hierdie keer onversetlik gebly en die volk nie laat gaan nie.